Lewe in volkleur uittreksel

DRIE

Gewilde Geel

Gewilde Geel toon die volgende prominente eienskappe:

  • Innemende geaardheid
  • Word maklik beïndruk
  • Emosioneel en identifiseer maklik met ander se hartseer en pyn
  • Neem vinnige besluite sonder feite, meer gebaseer op emosies
  • Geniet oor die algemeen die lewe en wil graag ander help en beïnvloed deur hulle positiewe geaardheid
  • Uitstekende storievertellers en praat maklik en baie – soms te veel
  • Het oral vriende (wye vriendekring)
  • Neem gesprekke oor sodat ander nie kans kry om hulle mening te lug nie
  • Het altyd iets om te sê en word nie sommer onkant betrap nie; praat dikwels sonder om te dink
  • Hulle toeganklike geaardheid gee die indruk van baie selfvertroue – soms meer as wat hulle regtig het
  • As gevolg van hulle natuurlike, aangename eienskappe word hulle relatief maklik vergewe as hulle swakpunte wys
  • Trou met Besliste Blou wat sensitief en ernstig is, maar raak gou verveeld omdat hulle Blou gedurig moet opbeur wat hulle dom en onbekwaam kan laat voel

 Gewilde Geel mense het bepaalde behoeftes:

  • Voortdurende aandag
  • Aanraking – velkontak
  • Voortdurende goedkeuring
  • Gereelde erkenning

Wat is Gewilde Geel se sterkpunte?

Gewilde Geel geniet die lewe en word nie maklik beïnvloed deur die verlede of die toekoms nie. Hulle leef in die oomblik en is gemaklike, sorgvrye mense. Hulle lag graag, is uitbundig en fluit en sing graag. Jy weet dadelik wanneer hulle in die omgewing is, want jy hoor hulle op ’n afstand.

Gewilde Geel is optimiste wat leef vir vandag en ook positief is oor die toekoms. As daar wel ’n probleem is, word dit eenvoudig opgelos. Hulle sien die glas altyd halfvol en hou nie van negatiewe mense nie.

Hulle is vriendelike mense, sosiaal en hartlik teenoor ander. Een van hulle grootste bates is hulle omgee-harte. Hulle vereenselwig hulle maklik met mense en kan lag saam met dié wat lag, en huil saam met dié wat huil.

Hulle is totale ekstroverte en het ’n uitgaande geaardheid. Hulle praat maklik en met energie en is entoesiasties en passievol oor alles waarin hulle betrokke is. Hulle fokus gewoonlik net op die oppervlak. Hierdie mense neem graag gesprekke oor, want hulle is lief vir die aandag. Daarom blink hulle ook uit in openbare optredes.

Geel se uitdagings – hulle swakpunte

Hierdie mense is rusteloos en erg ongeorganiseerd. Alle pogings tot orde sal dus onprakties en deurmekaar wees. Hulle reageer gewoonlik vinnig sonder om ’n saak goed te deurdink. Sonder dissipline sal die meeste van hulle pogings onproduktief wees. Hulle leef selde hulle Godgegewe potensiaal uit. Konsentrasie en rigting ontbreek dikwels by hulle.

Hulle het ’n swak wil. Die gebrek aan dissipline is hierdie mense se grootste swakheid. Hulle oorleef op grond van die dinamiese persoonlikheid wat hulle soms voorhou. Hulle pogings is gewoonlik impulsief en hulle voltooi as ’n reël nie ’n projek waarmee hulle baie entoesiasties begin het nie. Omdat hulle mense gelukkig wil maak, bied hulle oral hulp en dienste aan en het later te veel hooi op hulle vurk.

Die plasing was geplaas in . Boekmerk dieskakel.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui